Bruin manlike subjektiwiteit in die digkuns van Ryan Pedro en Ashwin Arendse (Brown male subjectivity in the poetry of Ryan Pedro and Ashwin Arendse)
Loading...
Date
Authors
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of the Western Cape
Abstract
Sedert die vroeë 1970s het die manlike subjek hernude aandag binne die sosiale wetenskappe ontvang – ’n ontwikkeling wat grootliks aan die opbloei van feminisme en vrouestudies toegeskryf word. Tog het die vroulike subjek en feministiese navorsing sedert die aanvang van die 21ste eeu ’n oorheersende fokus binne die geesteswetenskappe en genderstudies gebly. Gevolglik voer verskeie teoretici aan dat die bestudering van die manlike subjek slegs as ’n neweproduk van feministiese perspektiewe en vrouestudies bestaan. Kritiese ondersoeke na manlike subjektiwiteit kom dus selde voor. Die manlike subjek word slegs bestudeer wanneer hy as patriarg of onderdrukker van vroueregte posisioneer word. Tog verteenwoordig hierdie onderdrukkende manlikheid slegs een bepaalde vorm van manlike identiteit wat sterk aan konsepte van hegemonie en toksisiteit verbind is. Hierdie tesis poog om aan te toon dat ander, nie-onderdrukkende vorme van manlikheid as subalterne en gemarginaliseerde kategorieë binne die breër geslagsdiskoers beskou moet word. Daarbenewens word geargumenteer dat die maniere waarop manlikhede waargeneem en gekonstrueer word, sterk deur die blywende nalatenskap van koloniale onderdrukking beïnvloed word – ’n nalatenskap wat die bruin man histories na die marge en liminale ruimtes van identiteit en representasie gestuur het. My studie stel hoofsaaklik ondersoek in na die subjektiwiteit van bruin manlike identiteite in kontemporêre Afrikaanse poësie. Die sentrale doel van hierdie projek is om die uitbeelding van bruin manlike figure in die Afrikaanse letterkunde te verken en evalueer deur die werk van jonger en kontemporêre manlike digters te ontleed. Dit is duidelik dat die bruin manlike digter uniek geposisioneer is om die ervarings en geskiedenisse van die bruin manlike subjek te verwoord. Hierdie studie fokus derhalwe op die debuutdigbundels van twee bruin manlike digters: Ryan Pedro se Pienk ceramic-hondjies (2020) en Ashwin Arendse se Swatland (2021)