Die bekendmaking van die identiteit van anonieme minderjariges by meerderjarigheid: regverdigbaar of nie?
Loading...
Date
2016
Authors
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
LitNet Akademies
Abstract
Die identiteit van minderjariges word nie bekendgemaak tydens hofverrigtinge nie. Sowel
getuies as slagoffers en oortreders kry hierdie vergunning en word deur die wetgewer
beskerm. Hierdie beskerming verval egter wanneer hulle 18 jaar oud word. Indien hulle nie
die howe nader vir 'n verbod op die publikasie van hul identiteit nie, is daar geen remedie vir
sulke persone nie. Hierdie bydrae kyk spesifiek na die posisie van anonieme minderjarige
getuies, slagoffers en oortreders wanneer hulle 18-jarige ouderdom bereik. Dit word gedoen
om te bepaal of hierdie persone se identiteit met die bereiking van 18 jaar bekendgemaak
moet word en of hulle wel geregtig op verdere anonimiteit is. 'n Ander kwessie is of 'n
veroordeelde minderjarige misdadiger anders as getuies en slagoffers by die bereiking van
meerderjarigheid behandel moet word. Die moontlike effek van media-aanslae op die
emosionele ontwikkeling van sulke 18-jariges word ook onder die soeklig geplaas. Verskeie
bepalings in Suid-Afrikaanse wetgewing word ontleed wat wel die identiteit van
minderjariges beskerm. Die twee uiteenlopende gevalle van Zephany Nurse en die
Griekwastad-seun word met mekaar vergelyk. Die een was 'n slagoffer in 'n babadiefstalsaak
en die ander 'n veroordeelde minderjarige oortreder. Albei is nou ouer as 18 jaar en waar die
een se huidige identiteit deur 'n hofbevel beskerm word, is die ander se identiteit al verskeie
kere bekendgemaak nadat hy 18 geword het.
Daar word ook verwys na 'n Engelse saak waar beslis is dat twee veroordeelde minderjarige
oortreders se nuwe identiteite wel verswyg moet word na hulle 18 jaar oud geword het, omdat
die familie en vriende van hul slagoffer moontlik die wet in eie hande kon neem. Daar word
aanbeveel dat die wetgewer oorweging daaraan moet skenk om die bekendmaking van die
identiteite van minderjarige getuies, slagoffers en oortreders by die bereiking van 18-jarige
ouderdom te hersien.
Description
Keywords
Bekendmaking, Beskerming, Emosionele skade, Griekwastad-seun, Mediadekking, Minderjariges, Ontwikkelingsfase, Publisiteit, Verswyging van identiteit, Zephany Nurse, 18-jarige ouderdom
Citation
Hamman, A. J. & Nortje, W. (2016). Die bekendmaking van die identiteit van anonieme minderjariges by meerderjarigheid: regverdigbaar of nie? Litnet Akademies, 13(2): 730-752